Show

'n Blom in Elke Vrou

None

 'n Poëtiese reis deur die vier seisoene in 'n lig, klassieke styl met die musiek van Petronel Baard, Lelanè van der Merwe (tjello), Johan Engelbrecht (kitaar, viool en perkussie) en Franco Engebrecht (klavier).

“Soos daar ’n blom is in elke vrou, is daar ’n blom in elkeen van ons. Soms voel ons ontwortel. Soms is dit net die kaal takke van ’n winterboom wat moedig soos ’n skip sonder seil die lewensreis trotseer. Daarom gaan ons op ’n poëtiese reis deur seisoene, op soek na die wortels waar ons geplant staan, en waarmee ons groei.”  Só gesels die Suid-Afrikaanse sanger-skrywer, musikant en kunstefasiliteerder, Petronel Baard, oor haar nuwe produk "n Blom in Elke Vrou”.  Dié nuwe produksie, meesal oorspronklike musiek uit Petronel se pen, sommige toonsettings, neem sy haar gehoor op reis in soeke na ons plek in Afrika, in die lewe en liefde. Die teks het verwysings na inheemse plante - by elke seisoen - deurvleg met gedigte uit die pen van Mardene Marais van Cordis Trust en is saamgestel met insae van die tuinboukundige Ernst van Jaarsveld, inspirasie uit Madine Swart se puik boek, “Flora se Geheime Taal” en vele gesprekke oor die liefde en lewe saam met plantaktivis, Jan Odendaal van “GreenforlifeSA.” Vir die produksie tree Petronel saam met haar nuwe orkes op. Die orkesleier en pianis, is Franco Englbrecht, Johan Engelbrecht op viool en kitaar en Lelanè van der Merwe op tjello. Die verhoogontwikkeling, kostuums en dekor word deur Alta Scott van “Deur-die-Blare-Blomkuns” hanteer.

Die projek is ook ‘n entrepreneursnetwerk te sien op www.petronelbaard.com/blom

Madine Swart (Skrywer) ‘N SEISOEN OM TE BLOM 

Dis Junie-maand 2021 en vier vriendinne is oppad na Mosselbaai. Na meer as ‘n jaar se inperking is ons uitgehonger vir kuier en veral vir ‘n vertoning…Die vertoning is oorweldigend. Ons het al amper vergeet hoe lekker dit is om deur kuns gevoed te word. Petronel se warmte en hartlikheid versprei soos die geur van boegoe. Seisoene word treffend aangekondig deur besonderse blomkrone, en die tema van elke seisoen word kreatief met gedigte en musiek afgewissel. Die orkes se wonderlike musiek spoel oor ons, en vul die unieke ruimte van die Dias-museum. Petronel se reis deur die seisoene bied veral in hierdie tyd ‘n lafenis. Die produksie is ‘n bevestiging dat kreatiwiteit selfs te midde van ‘n pandemie kan blom… Hierdie produksie van Petronel en haar span is deel van ‘n groter projek wat ons daaraan herinner dat ons mekaar nodig het. Viooltjies maak ‘n klank as hul teen mekaar skuur, maar nie as hul alleen staan nie. Boegoe stel ‘n lieflike geur vry as die blaartjies gevryf word.

Petronel beskik oor ‘n uitsonderlike vermoë om mense aan mekaar te verbind en wil graag vroue bymekaar bring, sodat hulle talente en vaardighede “opgeteken” kan word. Sodra hierdie vertoning op pad is na jou dorp, laai jou vriendinne op en gaan vier vrouwees.  "Want enige seisoen is ‘n goeie seisoen om te blom.” 


There are up upcoming performances of this show available to book now. Browse here for other shows.